Kasjmir

Ligging van Jammu en Kasjmir in Indië
Territoriale eise in Kasjmir:

   Onder Indiese beheer (deelstaat Jammu en Kasjmir)

   Onder Pakistanse beheer (Asad Kasjmir)

   Onder Pakistanse beheer (Gilgit-Baltistan)

   Onder Chinese beheer (Aksai Chin)

   Sjaksgam-vallei (deur Pakistan aan China afgestaan, nie deur Indië erken nie)

Ligging van Asad Kasjmir in Pakistan
Politiese kaart van Kasjmir in 2004
Ligging van Gilgit-Baltistan in Pakistan
Topografiese kaart van Kasjmir

Kasjmir (Kasjmiri: كشهير, kaśhīr; Oerdoe, کشمیر; Hindi: कश्मीर, kaśmīr) is 'n geografiese streek in die noordwestlike gedeelte van die Indiese subkontinent wat tussen Indië, Pakistan en die Volksrepubliek China betwis word. Die streek grens in die noordweste aan Afghanistan, in die suidweste aan Pakistan, in die suide aan Indië en in die ooste aan China. In die noordweste is die Hindoekoesj, in die noordooste die Karakoram en in die suidooste die Himalaja geleë. Die streek is veral bekend vir die Kasjmirwol wat uit die Kasjmirbok se ondervag gewen word.

Indië beheer 101 338 km² van die betwiste gebied, Pakistan 85 846 km² en die Volksrepubliek China 37 555 km², altesaam 224 739 km². Die Indiese gebied het 'n bevolking van sowat 10,1 miljoen, terwyl die Pakistanse gebied sowat 5 miljoen het. Kasjmir se noorde is veral Islamities van aard, terwyl die suide Hindoesties en die ooste Boeddhisties beïnvloed is.

Kasjmir vorm sedert eeue heen weens sy ligging 'n belangrike brug- en knooppunt tussen Sentraal-, Suid-, Oos- en Wes-Asië. Sy strategiese ligging langs belangrike handelsroete het Kasjmir tot 'n begeerte saak van verowering gemaak. Kasjmir is in 1587 deur Akbar vir die Mogolryk verower en in 1739 het Nadir Sjah die streek vir die Persiese Ryk verower. In 1820 is Kasjmir deur Ranjit Singh by die Sikh-ryk ingelyf.[1] Met die Britse oorwinning oor die Sikh in die Eerste Anglo-Sikh-oorlog in 1846 het Kasjmir as Kashmir and Jammu deel van Brits-Indië geword.

Met die Verdeling van Indië in Indië en Pakistan het Kasjmir 'n kortstondige nie-erkende onafhanklike land geword, wat 'n kort tyd later tot 'n militêre konflik tussen Indië en Pakistan gelei het. Nadat Pasjtoense milisies vanaf Pakistan na Kasjmir binnegedring het, het Kasjmir by Indië aansoek gedoen vir militêre ondersteuning en as teenprestasie by die Indiese Unie aangesluit. Dit het tot die uitbreek van die eerste Indies-Pakistanse oorlog gelei wat in 1949 met die de facto verdeling van Kasjmir tussen Indië en Pakistan beëindig is. Hierdie wapenstilstand is deur die Verenigde Nasies bemiddel wat 'n volkstemming in die betwiste gebied aangevra het. Dit het tot vandag weens die konflik tussen Indië en Pakistan nie gebeur nie.

  1. (en) Imperial Gazetteer of India, volume 15. 1908. Oxford University Press, Oxford and London. bl. 93–95.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search